Deur D.Henning
Gepubliseer op 24 Maart 2025
My idee van leeg wees brand
Ek dink Henry David Thoreau was op iets toe hy gesê het:
“I went to the woods because I wished to live deliberately.”
My weergawe klink dalk meer soos:
“Ek het kombuistoe gegaan om my gedagtes te orden en toe geëindig by die koekiesblik. Maar dit was baie intensioneel.”
Tog—ek verstaan wat hy bedoel het. Ek smag na eenvoud. Ek verlang na minder.
Minder geraas. Minder deksellose plastiekhouers. Minder goed wat ek aanhou koop om ’n leegheid vol te stop wat eintlik net ruimte vir rus vra.
Ek wil minder hê, maar meer doen. Meer van die goed wat eg voel.
Ek wil iets maak wat ek self gebruik.
Ek wil brood bak (of probeer en dan darem ten minste krummels eet). Ek wil woorde skryf wat ek self weer lees en onthou: “Ja, dáár was jy. Dáár was iets reg.”
Ek wil kuns maak wat nie op Instagram hoef te wees nie, net op my yskas.
Ek wil nie net die wêreld verbruik nie. Ek wil bydra. Selfs al’s dit net ‘n mooi sin wat my worshond laat frons van konsentrasie.
Want daar’s iets heilig daaraan om jou eie handewerk te beleef.
Om iets te skep, al’s dit simpel of krom of lopsided. Dis joune. Dis eg. Dis vry van filters en likes.
Dis werk wat jy self verteer. En dís hoe jy terugkeer na iets ouds en eg: jy vat dit stadig, jy maak dit self, en jy gee jouself toe om minder te doen, maar meer "real".
Dis nie ‘n plek sonder enigiets nie. Dis net ’n plek sonder onnodige goed.
Dis waar jy weer leer hoe jou eie stem te hoor sonder geraas.
Dis waar jy minder probeer wees, sodat jy meer kan leef - en dalk, net dalk, is dit waar jy jou eie waarheid begin verwerk – met minder besit, maar meer betekenis.
So ja, ek gaan in die leemte in. Nie om te verdwyn nie.
Maar om weer op te daag—ligter, stadiger, en vol.
En ek vat net dit saam wat regtig saak maak: ’n bietjie stilte en ’n koppie koffie…
en ’n broodmes. Jy weet, vir die krummels.