Deur D.Henning
Gepubliseer op 14 April 2025
So lê 'n donkie in die donker op die mat.
Dis presies wat gebeur het.
Een verkeerde draai, een poging om ‘n uit die bed uit op te staan, en BOEM – daar lê ek.
Plat met my gesig op die mat.
’n Mens dink jy sal dapper wees in ’n krisis. Jy sal kalm bly, jy sal jou geliefdes nader roep en met nederigheid vra:
“Help my, asseblief. Ek’s broos.”
Maar wat doen ek? Ek het vir my vrou gegrom soos ’n wilde dier. Vir my worshond gesis dat sy moet weggaan toe sy my oomblik van noot in die gesig kom lek.
Gelukkig het my kinders geslaap, anders sou ek heel moontlik tot vandag toe nog moes verduidelik wat daardie woorde beteken wat nooit naby kinderore moes val nie. Geen hoeveelheid seep sou my mond kon uitwas nie, en geen getal roomyse sou genoeg gewees het om daardie trauma te sus nie.
“Ek’s okay. Moenie aan my vat nie. Ek’s fine.”
Spoiler alert:
Ek was nie fine nie.
Ek het op die mat gelê en gewonder hoekom ek so is.
Hoekom Verstoot Ons Mense Wat Wil Help?
Want sien, dis nie net ek nie. Dis amper al die mense wat ek ken.
As iets seermaak – of dit nou fisies, emosioneel, of eksistensieel is – wil ons dit eerder self dra as om iemand toe te laat om te help.
Dis dalk trots.
Dis dalk trots se giftige neef genaamd ego.
Dis dalk daardie stem in jou kop wat sê:
“As ek hulp vra, beteken dit ek’s swak.”
Maar dis nie waar nie.
Dit beteken net jy’s mens.
Nie donkie nie.
Ego het nie ’n Ruggraat nie
Die ironie is, as ons net ons ego’s bietjie in ’n besemkas kon bêre, sou die mense wat ons liefhet ons kon help.
Maar nee – ons druk hulle weg.
Ons maak hulle moedeloos.
En dan voel ons eensaam.
En dan kla ons omdat niemand daar is nie. Ek vreet my broccoli rou.
Ons is dus nie net hardkoppig nie – ons is hardkoppig én irrasioneel.
Wat sou ’n Wyse Donkie Doen?
Stel jou voor jy’s ’n donkie op ’n bergpas. Jou bene gee in. Jou karavaan baas kom na jou toe met water en ’n kombers.
Wat doen jy?
Opsie A: Aanvaar dit. Herstel. Wees weer sterk.
Opsie B: Skop hom teen die kop, sê jy’s fine, en lê daar tot jy in die son uitdroog.
As jy soos ek is, kies jy opsie B.
Maar miskien moet ons leer om bietjie meer soos ’n wyse donkie te wees – een wat verstaan dat jy nie swak is as jy hulp aanvaar nie.
Jy’s sterk, juis omdat jy toelaat dat ander jou dra wanneer jy nie self kan nie.
Die Les Op Die Mat
Ek het uiteindelik opgestaan.
Ek het myself op getrek teen die bed, my koel biekie verder verloor en 'n kamp mattras gevat en voor gaan slaap, want hoekom nie petrol op 'n vuur gooi nie?
Toe ek uit uindelik my rastionale denk patroon terug kry, besef ek, mense wat jou wil help, moet jy nie wegstoot nie. Ek het my trots gesluk saam 4 of 5 panadols en my vrou 'n whatsapp boodskap gestuur en gevrae vir hulp.
Jy’s nie gemaak om alles alleen te dra nie.
So volgende keer as jy voel soos ’n donkie – vol trots, vas op jou eie pad – staan stil, kyk op, en laat iemand toe om langs jou te stap.
Dis nie swakheid nie.
Dis wysheid.