Deur D.Henning
Gepubliseer op 8 April 2025
Rou Waarheid in sy ware vorm.
Ek het onlangs gesien hoe ‘n groep sogenaamde “aktiviste” ‘n protes gehou het. Ek hou van mense wat glo in iets. Ek hou selfs meer van mense wat bereid is om op te staan daarvoor.
Maar dan wil jy darem hê hulle moet weet waarvoor hulle opstaan.
’n Verslaggewer vra toe vir een van die deelnemers:
“Waarvoor betoog jy?”
En die antwoord:
"Vir mense soos ons, wat verstoot word!"
Klink eerlik. Emosioneel. Vol oorgawe. Maar toe die verslaggewer vra:
“Wie verstoot julle?” wel… toe breek die broccoli kop los.
Skielik word daar gevloek. Klippe gegooi. Geklap. Want sien, jy mag nie vrae vra as dit nie pas by die kaas-sous van hulle ideologie nie.
Jy’s of saam met hulle, of jy’s ’n onderdrukker. Daar’s nie plek vir nuanse, of – God verhoed – kritiese denke nie.
Die Broccoli Paradoks
“Iets kan goed wees, maar bitter. En mense sal dit nie sluk sonder kaas nie.”
Die waarheid is bitter.
Dit vra van jou om jouself te ondersoek, om jou eie oortuigings te bevraagteken.
Dis nie ‘n lekker ding nie.
So wat doen party mense?
In plaas daarvan om moeilike waarhede te verteer, gooi hulle tantrums.
Hulle begin verkondig dat hulle broccoli is, dat hulle bitterheid ’n deug is, en dat as jy nie hul spesifieke soort broccoli eet nie, jy deel is van die probleem.
As jy nie kaassous bring nie, bly stil
Party mense is so versot op hul eie pyn, hul eie stories van onderdrukking, dat hulle nie die waarheid wil hoor nie. Want dan sal hulle dalk moet erken hulle’s nie meer slagoffers nie.
Dan sal hulle dalk moet begin werk aan oplossings, en dis veel moeiliker as om klippe te gooi en kwaad te wees vir mense wat nie vir jou klap wanneer jy skree nie.
Want dis maklik om aandag te eis. Dis moeiliker om betekenisvolle verandering te maak.
Dis maklik om te sê jy’s die enigste regverdige broccoli in die bord.
Maar weet jy wat?
Sonder kaas, eet niemand jou nie.
Dus, wat nou?
Wees die mens wat vrae vra.
Wees die een wat bereid is om broccoli te eet – selfs sonder kaas – as dit beteken jy word ’n beter mens.
En as jy regtig wil help? Gaan soek regte probleme.
Gaan skep iets beters. Gaan wees lig, eerder as geraas.
Want mense wat regtig iets verander, is nie die een wat klippe gooi nie – dis die een wat stil sit, luister, leer… en dalk, net dalk, ‘n bietjie parmesaan oor die waarheid rasper sodat ander dit ook kan verteer.