Deur D.Henning
Gepubliseer op 19 Maart 2025
Ek dra myself soos my knipmes,
netjies gevou en gereed.
Dis nie altyd wat ek wíl wees nie,
maar dit wórd verwag, al is dit nie in my gees nie.
Dis ’n huldeblyk aan elke pa en sy seun,
om homself te bewys wanneer die wêreld hom roep.
Daar’s iets vir elke skeur en breek –
jy moet oopvou en wys wat in jou steek.
Ek moet dra sonder kla, bou sonder rus,
’n man is mos bruikbaar – nie breekbaar nie.
Hulle wil my sterk hê, ferm in my greep,
maar nooit oop genoeg om te wys wat ek weet.
En so bly ek vou, in stilte en plig,
in ’n sak van verwagting, sonder lig.
Maar ek weet: iewers bly daar hoop bestaan –
dat selfs ’n knipmes ’n hand sal vind wat verstaan.
Kommentaar - die knipmes in die foto is myne, my oupa het een gehad, my pa het een. My seun sal ook eendag een kry. Waneer hy nie sy vingers sal afsny nie - en as God dit toelaat, mag hy eendag myne erf en oppas. Dit is 'n vergelyking wat ek hom wil leer – om jouself as 'n man in te hou, netjies te vou, altyd gereed. Ek sal my seun laat verstaan, jy dra jou gereedskap (emossioneel en fisies), maar jy moet nie altyd oopvou of wys wat jy regtig voel vir die verkeerde hand nie.