Deur D.Henning
Gepubliseer op 10 April 2025
Breek weg van brûe wat nooit vir jou gebou is nie,
uit strukture wat jou naam nie ken.
Los die toue van verwagtinge,
mensgemaakte mites van moenie en moet.
Samelewing se konstruksie —
’n net van staal en stil instemming,
menslike induksie —
sirkels van herhaling sonder stemming.
Ek wil vlieg – nie weg van die wêreld nie,
maar bo my eie geraas,
oor die dakke van onsekerheid,
waar denke soos duiwe in stilte waag.
Ek wil rus in die wind se arms,
sonder plan, sonder pad.
Die son op my gesig,
my eie waarheid as enigste landkaart.
Want wat is vryheid anders
as om te sê: "Ek is genoeg,"
en dan te vlieg –
sonder om terug te kyk of toestemming te vra?
Rus sag my liefste ouma poppie. Rus.