Deur D.Henning
Gepubliseer op 22 April 2025
Wat ek wou bind met toue van twyfel,
moes ek leer om te los — sonder rym, sonder ruil.
Die wind het gekom met hande vol woede,
en alles gevat wat ek gedink het ek moet koester of voed.
Ek het gestaan, skouer teen skouer met die reën,
terwyl gister se drome soos blare verdwyn.
In die donder se asem, het ek geloof begin hoor —
nie as ’n gryp nie, maar as ’n sagte verloor.
Die storm het nie gebreek nie —
dit het gebou,
en toe gewas
tot ek weer kon onthou:
dat vashou aan niks,
soms alles vertrou.