Deur D.Henning
Gepubliseer op 22 Maart 2025
Sy’s net so lank soos ’n broodrol met pootjies,
maar waak soos ’n leeu wat brul vol leë beloftes.
Die kinders hardloop, die branders slaan –
en sy het halsoorkop deur die sand gegaan.
Water? Nee dankie, dit’s glad nie haar ding nie,
maar as die kinders roep, huiwer sy nie om in te spring nie.
Met oë vol drama en nat ore gespan,
spring sy op die branderplank – reg om te beman.
Sy kyk my dan aan – so ernstig, so reg,
sy’s duidelik die een wat die branders kom veg!
Ek sweer, ek sal geld hierop wed –
haar oë sê: “Wie gaan nou die redder kom red?”
Kommentaar - Vandat ek drie jaar oud was, was ek omring deur worshonde. Ons familie-vriende (Die Berlings) het twee Duitsertjies gehad – Jasper en Jessica – dit was my eerste blootstelling wat ek kan onthou van die liefde wat diere kan gee.
Deur die jare het ons hele gesin (en my vrou se ouers) worshonde gehad. Selfs my suster sweer dat haar "spirit animal" ’n worshond is.
My kinders het ook ’n worshond – haar naam is Meisie. Sy is meer as net ’n troeteldier, en ons is gelukkig dat ek en my vrou naby aan die kinders mag wees.
Die dag op die strand het sy deur branders gehardloop (nie groot branders nie – die soort wat jy op ’n dam kry), en sonder twyfel en vol selfvertroue op ons board gespring. Sy het elkeen van die kinders gelek en toe na my gekyk asof om te sê: "Nou wat nou?"
Maar ja, die wors-otter van die water gee vir ons eindelose liefde en plesier.