Deur D.Henning
Gepubliseer op 9 April 2025
Jy’t die kalmerende appels gegooi —
sonder vrees, sonder haas.
Om my uit my skulp te roep,
soos net jy kon, met sagte gebaar.
In jou oë was daar windstil gebed,
’n geduld wat die jare nie kon breek.
Jy’t met hande vol dae en arms vol rus
my onrus kom stilmaak, stuk vir stuk.
Jy’t geluister na God se sagte stem,
en sonder oordeel — in my oor kom fluister:
"Kind, jy is gesien. Jy is nie verlore nie.
Jy dra lig, selfs al voel jy geblus."
Met elke koppie tee en beskuit wat kraak,
het jy iets heilig in my wakker gemaak.
’n Geloof sonder woorde,
’n liefde wat nooit hoef te vra nie.
Jy’t nie net gebid nie — jy was ’n gebed.
Rus sag my liefste ouma poppie. Rus.