Deur D.Henning
Gepubliseer op 20 Maart 2025
Ons is almal verbind, in ’n wêreld so wyd,
met drade van hoop en nate van tyd.
Wat jy beleef, dra ek ook saam,
jou vreugde en trane – dit raak ons almal aan.
Geen mens is sy eie eiland nie.
Dit maak ons nie mekaar se vyand nie.
Al staan ons still, aleen en koud,
ons harte klop saam, jonk en oud.
Jou struikel is myne, jou lag is my lig,
jou storie en sorge maak my ook dig.
Soos golwe wat kring in ’n stille meer,
raak ons mekaar, keer op keer.
Al voel ons nes siele wat doelloos dryf,
verweef ons drome soos ’n kunswerk se lyf.
Ons bou aan mekaar, sonder dat ons dit weet,
soos sterre wat skyn teen die donker van leed.
Kommentaar - “No man is an island” kom oorspronklik uit John Donne se Meditation XVII (1624), en lui:
“No man is an island, entire of itself; every man is a piece of the continent, a part of the main…”
Ons het mekaar nodig — vir koffie, braai-vure, emosionele ondersteuning, en iemand om saam mee te lag oor hoe tragikomies die lewe soms is. Selfs jou stiltes (en jou ongemaklike grapies) het ’n effek op ander. Ons is verbind, of ons daarvan hou of nie.
Dankie liewe leser dat ons deur woorde mekaar vind.