Deur D.Henning
Gepubliseer op 9 Maart 2025
Ek ken hom goed, daardie duiwel. Hy’s daai stem wat sê: "Môre!" Hy’s die innerlike rekenmeester wat vir jou verduidelik dat dit finansieel onprakties is om jou passie te volg. Hy’s die fynskrif onderaan jou drome wat sê: "Geen waarborge, geen terugbetalings, geen selfrespek as jy faal nie."
Ek het vir ‘n lang tyd met hom saamgeleef sonder om dit regtig te besef. Tot ek een dag ‘n gedagte gehad wat my laat wakker skrik:
God bestaan, want wiskunde is konsekwent.
Ewe skielik besef ek, as dít waar is, dan bestaan die duiwel ook - want niks in die lewe werk ooit presies soos jy beplan het nie. Jy begin ‘n projek vol entoesiasme, en skielik is jy besig om YouTube-video’s te kyk oor hoe om ‘n lelie aan die lewe te hou. (Terloops, ek weet steeds nie.) Jy beplan om groot drome te jaag, maar voor jy jou oë uitvee, sit jy vasgevang in ‘n middelmatige bestaan met ‘n uitstekende kennis van belasting-aftrekkings en dat komkommers katte laat skrik.
En toe besef ek—hierdie stil desperaatheid is die duiwel in die donker. En hy gaan nie vanself loop nie.
Die enigste manier om hom te verdryf? Skep wat jy verbruik.
Skryf die woorde. Maak die webtuiste. Begin die projek. Tel die yster op. Bou iets. Lig en beweging is sy grootste vyande. Hoe meer jy doen, hoe minder krag het hy.
So ek het besluit: ek los hom nie meer in die donker om my kreatiwiteit op te vreet nie. Ek sleep hom uit in die lig en laat hom sien hoe dinge gebeur. Want as daar een ding is wat ek geleer het, is dit hierdie:
As jy wag vir die perfekte oomblik om te begin, teken jy net ‘n kontrak met die fynskrif van stil desperaatheid.
En ek weier om daardie kontrak te teken.