Deur D.Henning
Gepubliseer op 28 Maart 2025
Gedramatiseer vir die effek - Ek sal nooit koffie mors nie.
Ons almal ken een of twee van daardie mense. Hulle lyk asof hulle in ‘n permanente staat van “alles werk uit” leef. Hulle plant tamaties en dit groei soos ‘n boer wat weet wat hy doen. Hulle koop ’n tweedehandse motor en dit loop vir 15 jaar sonder probleme. Hulle tel ’n stok op en voordat jy jou oë knip, is dit ’n suksesvolle Etsy-besigheid wat handgemaakte self-geseënde wandelstokke verkoop.
Dan is daar die res van ons. Dié wat net wil hê die koffiebeker moet ten minste halfvol bly, maar op een of ander manier vind ons onsself in ’n toestand van “Waar’s my beker nou weer?”
En weet jy wat die ironie is? Die mense met die oorlopende bekers het glad nie noodwendig meer bekers as jy nie. Dis net dat hulle geleer het hoe om die een wat hulle wél het, vol te hou.
Die Beker-Opgaarders
Nou, hier’s waar dinge snaaks raak. As daar vandag ‘n nuusopskrif sou wees wat sê: “Vlermuis ontsnap uit Laboratorium - Nuwe snot siekte ontdek” dan kan ek jou waarborg dat daar hordes mense sal wees wat al die bekers opkoop. Want vir ‘n rede wat ons nog nooit regtig verduidelik het nie, het die mensdom besluit dat as jy bang en onseker is, moet jy eenvoudig net ál die toiletpapier koop.
Net so sal mense bekers begin opgaar. Hulle sal dink: “As ek net 47 bekers het, sal my lewe vol wees.”
Maar hier’s die ding: as jou beker hol is, maak dit nie saak hoeveel jy het nie – dit bly leeg.
Die Geheim van ‘n Oorlopende Beker
Geluk kom nie van hoe baie jy het nie, maar van hoe jy gebruik wat jy het. Die mense met oorlopende bekers verstaan iets wat die res van ons dalk mis:
Hulle vul hul bekers. Hulle deel hul bekers. Hulle skep nie geluk deur te vat en op te gaar nie – hulle maak dit deur te gee.
Jy sien, die een groot fout wat mense maak, is om te dink geluk is ‘n goed wat jy kan stoor. Soos daai een oom met sy 300 blikkies boeliebief, omdat hy ‘n onwrikbare geloof het dat die wêreld binnekort tot ‘n einde kom.
Maar geluk werk nie so nie. Geluk is nie ’n bottel langlewe-melk wat jy op ‘n rak kan los vir ‘n krisis nie.
Dit is iets wat jy maak, gee en gebruik.
Wat As Jou Beker Leeg Is?
Wel, vir een, moet jy ophou om jou beker onder mense te hou wat net tap en nooit skink nie.
En tweedens, dalk moet jy ophou dink dat nog ‘n beker jou oplossing is.
Want jy hoef nie 47 bekers te hê om gelukkig te wees nie.
Jy hoef net een te hê – en jy moet weet hoe om dit vol te hou - dalk beter loop met jou koffie sodat dit nie mors nie. En, al mors jy 'n biekie, is dit ook okay.
Jy gaan daardie een beker gebruik om ook vir iemand anders te skink en vir jou sal geskink word.
Want dis hoe jou beker regtig oorloop.