Deur D.Henning
Gepubliseer op 2 April 2025
Ons is nie geplant op aarde om stil te staan nie.
Hulle lyk tevrede in hul groepe, groeiend en vrolik, terwyl ek soos ’n eensaam madeliefie staan en wonder hoekom ek nie ook deel is van ’n kleurvolle bed van “Ons” nie. Ek kyk in die verte en sien ander blomme saam bloei - hulle dans in die wind, ruil stuifmeel uit (wat seker maar botaniese small talk is) en ek dink: “Wel, hier staan ek dan, ‘n sosiaal ongemaklike petunia in ‘n veld van dorings.”
Wat eensaamheid soveel erger maak, is die gedagtes wat dit bring. Dis soos om alleen by ‘n braai te staan met net ‘n droë broodjie terwyl almal lag en vleis braai.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is gemaklik in my eensaamheid en die is nie 'n Jannie-Jammer Gat eet nog 'n wurm staaltjie nie. NEE. Dit is veronderstel om hoop te gee vir mense wat eensaam voe
Donker Gedagtes
As jy nie genoeg praat met ander mense, luister jy te veel na jouself en voor jy jouself kan keer, raak jy diep betrokke in ‘n eksistensiële gesprek met ‘n verlepte graspol.
Maar weet jy wat ek besef het? Ek is nie ‘n blom nie. Ek is ‘n mens.
En mense het bene.
En weet jy wat mense met bene kan doen? HULLE KAN LOOP.
Ek hoef nie vir altyd in dieselfde stukkie grond vas te sit nie.
Ek hoef nie te wag dat die regte mense my toevallig ontdek en my begin natgooi nie.
Ek kan my wortels uittrek en myself plant waar ek regtig wil wees.
Dit klink dalk simpel, maar hoeveel keer leef ons nie net in die verkeerde plek nie?
Omring deur mense wat nie regtig vir ons omgee nie, vasgevang in omgewings wat ons leeg laat voel, bly in situasies net omdat dit die bekende is?
Gaan Soek Jou Veld
Gaan vind ander blomme wat regtig wil hê jy moet daar wees.
En as jy regtig nie ‘n plek kry nie? Skep jou eie tuin.
Eensaamheid is ‘n monster, ja. Maar dit hoef nie ‘n vonnis te wees nie.
So as jy ook voel jy’s ‘n blom tussen onkruid—onthou net, jy’t bene.
Jy kan loop. Jy kan kies. Jy kan blom waar jy wil.