Deur D.Henning
Gepubliseer op 28 Mei 2025
Ek het gedink ek is slim.
Gelees.
Gesoek.
Filosowe gekyk op YouTube en TED Talks gebinge asof dit Netflix is. Ek het gedink ek kan myself uit my boksie dink en drink. Maar daai is soos om jouself van honger te probeer red deur 'n resepteboek te eet.
Want nie alles kan gedink of gedrink word nie. Party goed moet gevoel word. En gevoel word beteken jy moet sit in die kak.
Nie vinnig daaroor spring nie. Nie ompad ry nie. Sit. Proe. Ruik. Erken.
Ek moes ophou vra “Hoekom gebeur dit met my?” en eerder vra:
“Wat gebeur in my?”
En daar was baie. Baie meer as wat ek wou erken. Verliese wat ek nooit behoorlik verwerk het nie. Teleurstellings wat ek net in emosionele plastieksakke toegeknoop het en in my binnekant se stoorkamer gegooi het, reg langs my verwagtinge en ego. Ek het mense vergewe met my mond, maar in my hart het ek hulle nog elke oggend met 'n emosionele vuis in die bors gestamp. En daai vuis het my seergemaak.
Nie hulle nie.
Niemand kom jou red nie.
Dis ‘n harde sin, ek weet. Maar dis een van die belangrikste waarhede wat ek moes leer. Nie jou ma nie. Nie jou beste vriend nie. Nie die government nie. Nie die kerk nie. Nie die zolman op die hoek nie. Nie die motivational speaker op TikTok wat sê jy moet elke oggend 4:30 opstaan en jou bed opmaak nie. Niemand.
Want weet jy wat? Hulle het hulle eie goed.
En dis okay. Dis nie ‘n klag nie. Dis net die realiteit.
Daar’s net een persoon wat jou regtig kan red.
Jy.
En as jy nie wil nie – dan gaan niks werk nie. Nie medikasie nie. Nie retreats nie. Nie woestynstaptoere in Namibië met ‘n sjamaan nie.
Jy moet wil.
Dis die sleutel.
“Do-Os-Trum” – ‘n Handleiding vir Moontlikheid
Dis hoekom ek my eie woord moes maak. Want die oues het nie meer gewerk nie.
“Depressie” het te veel bagasie.
“Selfhelp” klink soos 'n spam e-mail.
“Selfliefde” is iets wat mense op Instagram sê terwyl hulle in Bali sit met hulle bene gekruis en ‘n green smoothie en 'n link na hulle Only Fans toe.
Ek het een dag voor die spieël gestaan, my hande op my heupe, en hardop gesê:
"Moenie 'n doos wees nie en moet nie in een gaan sit en huil oor goed wat nie joune is nie"
Dis snaaks. Dis simpel. Dis waar.
Daai sin het my iets laat snap. Ek het met my eie gedagtes baklei, met die wêreld baklei, met die politiek, met die weer, met my kinderdae, met my huidige self, met alles en almal – maar ek het nie besef ek is deel van die probleem nie.
Nie die enigste deel nie. Maar ‘n belangrike deel.
En toe ek eers kon lag vir myself, toe ek eers kon sê, “Jirre ou, jy’s eintlik vol stront met al jou gedagtes wat soos Netflix episodes loop sonder ‘n afknoppie,” toe kon ek begin uitkom.
Nie uit die wêreld nie. Nie uit die politiek of die leuens of die chaos nie.
Maar uit my eie kop.
Die wêreld is stukkend. Jy hoef nie ook te wees nie.
Ons sien dit elke dag. Mense wat mal raak. Skole waar kinders mekaar breek met woorde en vuiste. Trolls op die internet wat meer gif as gras uitspoeg. En dan daai een nuusartikel wat jy nie wil lees nie – van iemand wat met ‘n kar in ‘n skare injaag by ‘n sokkerwedstryd.
Ek hou nie eens van sokker nie. Ek verstaan nie die doel nie, daar is 'n bal, jy moet hom skop maar jy mag nie iemand tackle nie?
Maar ek weet daar is 'n lyn wat jy nie oorsteek nie. 'n Kar in mense injaag? Dis nie haat nie. Dis nie net woede nie. Dis opgee. Dis “ek is so seer, ek wil hê almal moet voel.” Dis "ek het gesoek, en niks gevind nie".
En weet jy wat? Ek was amper daar. Nie met ‘n kar nie, maar met my gedagtes. My woorde. My afwesigheid. My stiltes wat skree sonder klank. En as jy eers op daai plek was – daai rand van “ek gee nie meer om nie” – dan besef jy hoe belangrik dit is om jouself te help.
Voor dit so ver kom.
Voor jy eendag iemand anders se pyn word, net omdat jy nie jou eie wou erken nie.
So… wat sal my laaste woorde wees?
Nie aan iemand anders nie.
Nie vir my kinders of vriende of familie nie.
Nie vir die wêreld of die president of daai cashier wat my altyd verby kyk nie.
Nee. Aan myself.
Ek dink ek sal vir myself sê:
“Jy was nooit gebreek nie. Net bietjie verkeerd gevou.”
Jy’s steeds jy. Steeds mens. Steeds die een met ‘n hart wat klop, al verstaan jy hom nie altyd nie.
Jy’t foute gemaak, ja. Jy’t weggekruip. Jy’t te lank gebly op plekke wat jou nie verdien het nie. Maar jy’s hier. Jy’s besig om te probeer. Jy’t al jouself begin soek. En dis meer as wat baie mense ooit sal doen.
Wees sag met jouself. Maar nie so sag dat jy nooit weer roer nie. En wees hard op jouself, ja – maar nie so hard dat jy nie meer wil staan nie.
Moenie jou lewe mors deur wag vir iets wat dalk nooit kom nie. Maak jou eie iets. Jou eie glimlag. Jou eie “dis okay vir vandag.” Jou eie Do-Os-Trum-free bestaan.
Dis nie maklik nie. Dis nie vinnig nie. Maar dis moontlik.
As jy vandag opstaan en voel jy’t niks oor nie –
As jy in die badkamer sit en jou gesig in jou hande hou, sonder trane, net moegheid –
As jy dink daar’s niks meer wat jy kan probeer nie –
Dan sê ek dit vir jou:
Jy is nie alleen nie.
Jy’s nie mal nie.
Jy’s nie swak nie.
Jy’s nie ‘n las nie.
Sit. Rus. Erken. Lag ‘n bietjie. Skryf ‘n woord soos Do-Os-Trum op ‘n papier.
Nie vir iemand anders nie. Nie vir die wêreld nie. Vir jouself, want jy verdien om biekie te lag.