Deur D.Henning
Gepubliseer op 27 Mei 2025
Die lewe is nie altyd 'n avontuur of ‘n Instagram-storie met 'n sepiafilter nie. Dis soms net ‘n koue vloer onder jou voete as jy tweeuur die oggend opstaan om te huil oor iets wat jy self nie kan uitspreek nie. En dit begin nie altyd met iets groot nie. Soms is dit net daai vuil koppie in die wasbak. Die een wat gister al daar gestaan het. En eergister. En nou kyk jy daarna asof dit die finale klip op jou kasteel van kopseer is.
Depressie is nie altyd 'n groot drama nie. Dis nie altyd ‘n traan met dramatiese musiek op die agtergrond nie. Dis soms net ‘n stil gly in iets wat jy nie eers gesien kom het nie. Jy dink jy is moeg. Of bietjie emosioneel. Of dalk net besig. En dan, voordat jy dit weet, sit jy in 'n donker kamer met "black-out" blinds wat al vir drie dae toe is en sit Lana Del Rey se nuutste pols kou treffer op repeat terwyl jy kyk vir die plafon soos iemand wat hoop dit verander in 'n portaal na 'n plek waar niemand vrae vra nie.
Ek het probeer veg.
Regtig.
Ek het probeer om die gat met allerhande goed toe te bou. En ek meen amper alles van allerande.
Nog geen kerk gebou kon my probleem op los nie.
My eerste stop was geloof. Ek het gedink dis die slim keuse. Die “regte” plek. Ek het by 'n gebou ingestap vol mense wat sing asof hulle God met volume kan oortuig om eerder hulle probleme as hulle bure s'n aan te hoor. Ek het probeer voel. Maar al wat ek kon voel was 'n ongemaklike sweetkol op my rug en die intense oë van 'n tannie wat vir my ‘n pamflet gegee het met 'n smile wat sê "Ek het iets wat jy nie het nie.”
Ek het probeer glo. Ek het probeer vasbyt. Maar dit het gevoel soos om te bid teen 'n plafon. En die echo was my eie stem wat sê: “Jy’s dalk net lonely, this too shall pass".
Ek is nie teen geloof nie, glad nie. Maar die gebou maak nie die mens nie. Net soos om in 'n garage te staan jou nie 'n kar maak nie.
As geloof nie werk nie, dan moet dit seker die aarde wees, ne? Ek het gaan stap. Ek het gaan sit op rotse. Ek het probeer luister na die wind en voel hoe die son my gesig warm maak soos 'n stukkie toast in ‘n oond. Maar al wat ek gekry het was ‘n moerse sonbrand en nog 'n tannie wat 'n pamflet vir my wil gee.
Die natuur is mooi, ja. Maar sy is ook wreed. Sy gee nie om of jy oor jou eks droom of jou belasting laat lê het nie. Sy het storms, dorings en goggas wat jou ore wil in kruip. Winde wat jou sal weg waai, storms wat jou sal breek, volkane wat op enige tyd stip kan ontplof. Ek het gegaan vir vrede, maar teruggekom met blase en ‘n vol bottle Alovera wat help met sonbrand.
Toe het ek dit in 'n bottel gaan soek.
Nou ja, as die geestelike nie werk nie, miskien werk die drank. Want soos daai oom by die rugby altyd sê: "Net een’tjie om te kalmeer." En ek het probeer. Ek het myself probeer kalmeer tot ek my eie naam vergeet het. Ek het op kroegstoele gesit en lewensfilosofieë met vreemdelinge uitgeruil wat glo Elvis is nog lewendig en dat Coca-Cola jou dinkpatrone beheer.
En wat het ek aan die einde van die bottel gekry?
Die bodem. Dis dit. Nie ‘n openbaring of ‘n ligstraal of 'n stem uit die prop wat sê “Jy is meer werd” nie.
Net 'n leë bottel, 'n droë keel, en skuldgevoelens wat wakker word saam met die son.
Eers toe ek gaan sit en my eie kop begin deursoek, het ek begin sien hoe baie ek eintlik nie in beheer is nie. Maar ook hoe baie ek tog kan beheer.
Ek kan nie die politiek regmaak nie. Ek kan nie korrupsie stop met ‘n tweet nie. Ek kan nie keer dat mense in mekaar vasjaag met karre by ‘n sokkerwedstryd nie. Maar ek kan myself bestuur. Ek kan my reaksies temper. Ek kan kies hoe lank ek vir daai koppie in die wasbak gaan kwaad wees. Ek kan opstaan, die water oopdraai, en dit skoonmaak. Al is dit net vir vandag.
En hier het ek 'n nuwe woord ontdek: Do-Os-Trum.
Moenie jouself in ‘n doos sit nie.
Moenie dan ‘n tantrum gooi omdat jy in die doos is wat jy self toegetrek het nie.
Mense gaan jou nie kom red nie. Hulle het hulle eie bokse. Hulle eie tantrums. Hulle eie koffie wat koud word op tafels waar niemand meer vra “hoe gaan dit regtig?” nie.