Deur D.Henning
Gepubliseer op 13 Mei 2025
Die meeste mense vrees niks. Nie in die filsofiese sin nie, maar letterlik — die gevoel van “ek het niks nie.” Dis hoekom mense hul kaste propvol hou met klere wat hulle laas in 2012 gedra het. Dis hoekom daai een oom by die werk drie backup hardeskywe en ’n floppy disk op sy lessenaar hou “net in geval.” Ons klou vas aan goed, want dis makliker as om te erken dat ons eintlik net tydelik hier is en dat alles, op ’n dag, gaan verdwyn. Maar dink mooi — geluk? Niks. Jy kan dit nie bêre in ’n pot en volgende week uitgrawe nie. Jy kan dit nie verkoop of verhuur nie. Net so met woede. Dis ’n emosionele flits in die brein, en dan... weg. Ons leef van oomblik tot oomblik, en tog behandel ons emosies asof dit goue munt is wat ons moet oppot vir ’n reënerige dag. Jy’t nog nooit iemand hoor sê, “Ek’t Woede in Bitcoin omgeskakel” nie.
Elke koning sterf en al wat agter bly is sy kroon.
Waarheid Tyd
Ons gaan nie eendag sterf nie — ons moet sterf. Dis nie opsioneel nie. Dis nie op ‘skip’ of ‘postpone’ beskikbaar nie. En wanneer dit gebeur, los ons alles agter. Daai nuwe kar wat jy elke Saterdag was asof jy hom wil eet, die slimfoon wat jy elke jaar opgradeer asof dit jou selfwaarde meet — niks daarvan kom saam nie. Jy sal nie eers jou gunsteling sweetpak dra nie. Die dood vra nie vir kleredragkodes nie.
En tog... is daar waarde in hierdie lewe. Nie in jou plasmatv of jou NFT van 'n digitale eekhoring nie, maar in die tyd wat jy gee. In die lag wat jy uitlok. In die traan wat jy nie skaam is om te wys nie. Alles is tydelik, ja — maar dis juis wat dit kosbaar maak. Soos daai laaste sluk koffie, of die laaste rep by die gym wat jou laat voel of jy met God self hande skud het.
Ek mag niks besit nie. Maar ek het my mense. Ek het my oomblikke. Ek het ’n worshond wat snags soos ’n heater teen my vasdruk. En jy? Jy het dalk ’n vol kas, ’n bankrekening met ekstra nulle, en ’n huis vol goed — maar as jy nie ware mense het om dit mee te deel nie, is jy net ’n keiser in ’n paleis sonder vensters.
So gee aandag. Spandeer tyd. Kyk jou geliefdes in die oë en wees teenwoordig. Want niks hou vir altyd nie — en dis wat dit alles, elke niks, so waardevol maak.