Deur D.Henning
Gepubliseer op 25 April 2025
Selfs plante in potte kan trek
Die eerste ding wat jy leer as jy emigreer:
Die wêreld is nie op jou ingestel nie.
Nie jou aksent, jou grappe, jou idee van wat “vinnige diens” beteken nie.
Jy’t dalk ’n graad, maar die graad help niks om te verstaan hoe die treine werk nie;.
Want jou vorige ervaring is... wel, “interesting”, maar nie “relevant” nie.
Dis soos om jou hele lewe lank bicep curls te doen en dan vra iemand: “Kan jy dalk nou leer hoe om met jou bene te dink?”
Party Dae Is Jy ’n Superheld – Ander Dae Is Jy Net Moeg
Daar was dae wat ek regtig gevoel het ek gaan dit nie maak nie.
Nie dramaties nie – net diep moeg.
Moeg vir voel soos ’n buitelander in my eie vel. Moeg om vir tannie Google te vrae. Moeg vir wag in rye wat niemand verstaan nie, en glimlag na mense wat jy weet niks van jou verstaan nie.
Maar dan kom daar ’n dag – klein, onopvallend – waar jy agterkom jy’t deur ’n hele gesprek gegaan sonder om een keer te paniekerig voel.
’n Dag waar jy iemand anders kan help. Of waar jy jou eerste grap in die nuwe taal maak (en iemand lag al was dit uit simpatie – dis nog steeds ‘n lag!).
Dis Nie Jy Wat Moes Verander Nie – Dis Hoe Jy Gedink Het Oor Alles
Selfs wanneer dit voel asof jy vasstaan, is daar steeds iets wat jou slyp. Elke koppie koffie wat jy rustiger maak, elke keer wat jy nie iemand uitoorlê met ’n sarkastiese opmerking nie, elke keer wat jy kies om te oefen – al voel jy soos ’n verroeste trekker.
Jy verander. Nie in groot spronge nie, maar in daai stil maniere wat ander dalk nie sien nie, maar wat jy voel, diep binne-in jou, wanneer jy stil raak.
Van Vreemdeling na Vrugbare Grond
Jy weet, emigrasie is nie vir die bang nie, maar die ook nie vir die braaf nie.
Dis vir diegene wat bereid is om soos ’n plant hulself uit hul pot te lig, die wortels af te stof, en hulself in nuwe grond te plant –
grond wat aanvanklik vreemd voel, maar met tyd, groei moontlik maak.
So ja, party dae voel ek nog soos daai een sokkie wat altyd agterbly in die wasmasjien.
Maar ander dae – ander dae voel ek soos ek, iets meer soos myself as ooit van te vore.
Net met meer lae, meer perspektief… en dalk ’n sterker kafeïen-inname as wat wettig is.