Deur D.Henning
Gepubliseer op 20 Mei 2025
My eerste band wat ek ooit live gesien het, was 'n punk rock groep van Witbank genaamd Honey-Bee. Ek was nog jonk, bietjie skrikkerig, maar vol attitude. Daardie eerste keer het iets in my wakker gemaak. Nie net in my ore nie, maar in my borskas. En toe, jare later, kyk ek Violent Soho in 'n ander land, met 'n ander lewe, en ek het dieselfde gevoel gehad as my 14-jarige self. Ek voel dit net meer in my knieë, in my ribbe en in die manier hoe ek nie meer vir drie dae kan hoor na 'n show nie. En dis okay.
Tussen Honey-Bee en Violent Soho lê ’n hele leeftyd se klanke, herinneringe, verlore vriende, hardklop op snaarritmes, en die lekker stof van Woodstock 2006 by Hartbeespoort. Ek was ’n zol-kop (jammer ma) met 'n skateboard en ambisie. Ons het letterlik ’n vriendin gaan soek wat verlore was tussen die veetjies, ons het geswem in iemand se bakkie, geslaap in stof, wakker geword in son, en weer begin. My asem het gestink na Castle en my hemp het geruik soos 'n Stuyvesant-stompie. Ek was 17. Daar is nie een foto nie. Net herinnering. En ek's spyt oor niks.
Musiek. Dit het my opgetel, my gebreek, my weer aanmekaar gesit as nuwe mens.
Vir dramatiese effek, luister na die musiek en lees verder
Ek het nie net bands gekyk nie — ek het myself verloor en gevind in die musiek. Dit was nie ontsnapping nie. Dit was verbintenis. Dit was die oorgang van woede na vrede, van hartseer na hoop. Ek het in skares gestaan waar 16 000 mense saam “Stuur my dan waarheen al die dose gaan” gesing het. Ons het geskree vir "Lonely Lonely" van The Narrow soos ’n oorlogskreet teen ’n wêreld wat nie verstaan nie. En nou, 19 jaar later, ontmoet ek iemand wat daar was. Selfde plek. Selfde gevoel. Selfde storie.
Dít is musiek. Dít is kuns.
Musiek kan jou maak of breek. Dit bring die verlede terug, dit fluister geheime van die toekoms, dit sê: "Jy is nie alleen nie." ’n Liedjie kan jou oplig uit ’n donker plek, of jou sak op jou knieë sodat jy uiteindelik kan huil.
Dis nie net klanke nie — dis stories, emosies, oorlewing. Of jy nou jazz luister, metal, indie folk of sokkie — dis die gevoel wat saak maak. Nie die genre nie. Nie die hoeveel nie.
Dis nie belangrik hoeveel bands jy gekyk het nie. Dis belangrik dat musiek iets ín jou gedoen het. Dat dit jou laat voel het. Laat onthou het. Dat jy vir 'n oomblik stil geraak het, en gedink het: “Ek is nog hier.”
Want uiteindelik is ons almal net mense — op soek na klanke wat ons stiltes verstaan.