Deur D.Henning
Gepubliseer op 17 Maart 2025
Ek was te lui om 'n dooie perd te teken
Ek weet, dis hard. Dis brutaal. Maar iemand moes dit sê. Jy sit daar, vol goeie bedoelings, met jou stewels gepoets en jou tande gekners, en jy skop daai perd soos ’n ou wat te lank in ’n Call Centre vasgehou is. Maar hy beweeg nie. Want hy’s… wel, hy’s morsdood.
Nou, hoor my mooi: ek het simpatie. Ek het self al vir maande op dooie perde gesit. Projekte wat ek aanhou sleep al sê alles in my binneste: "Hierdie ding is klaar, jy hou hom net nog lewendig met koffiedampe en wanhoop."
Ek het al op dooie vriendskappe probeer ry. Ek het probeer vergaderings lewendig hou met PowerPoint-slides en emosionele blackmail. Ek het al probeer aanhou met planne, idees en "passies" wat klaar hulle laaste asem uitgeblaas het in 2021 toe ek besluit het ek kan dalk professioneel sokker speel. (Spoiler: Ek kan nie.)
Maar weet jy wat dooie perde nie doen nie? Hulle drink nie water nie, hardloop nie vry in die veld nie. Hulle gee jou nie ‘n lift na sukses nie en hulle ruik, om dit subtiel te se, problematies.
My liewe leser, jy verdien méér as om in die son te sit op iets wat al lankal op pad hemel toe is (of hel toe, afhangend van hoe daai projek gegaan het).
Soms is die regte antwoord nie "hou aan" nie, maar "hou op".
Of net, weet jy, klim af. Gaan sit onder ‘n boom. Drink iets koud. Herontdek jou humorsin. Want as jy aanhou dryf met niks meer as ‘n geraamte en ‘n droom nie, gaan jy op die ou end brand uit met niks meer as ‘n gebrande siel en ‘n mooi kalender vol niks.|
Dis nie ‘n mislukking om op te hou nie. Dis wysheid. Dis volwassenheid. Dis selfrespek.
En weet jy wat gebeur soms as jy ophou op ’n dooie perd ry?
Jy sien ‘n lewendige een wat jou staan en aankyk, reg vir ’n nuwe avontuur. Maar jy sou hom nooit gesien het nie, as jy aanhou kyk het na die een wat lankal omgeval het.
So... klim af. Gaan rus. Gaan herlaai.
En as jy weer ry, sorg net dat die perd nog lewe in sy oë het.