Deur D.Henning
Gepubliseer op 18 April 2025
Geduld is Nie My Gawes nie (Maar Ek Werk Daaraan, Okay)
Ek het besluit ek wil leer skilder.
Ek het YouTube & Chat GPT gevra hoe lank dit vat om ’n meesterstuk te maak.
Antwoord: “Jare van oefening en selfontdekking.”
My reaksie? “Ek gee dit vyf dae.”
Dag een: Ek koop kwaste en gooi verf op ’n doek soos Pollock se jonger, meer chaotiese neef.
Dag twee: Ek twyfel aan my bestaan.
Dag drie: Ek blameer die kwaste.
Dag vier: Ek begin aanlyn kyk vir tweedehandse kitare.
Dag vyf: Ek besluit om 'n band te begin.
Dis Moeilik om Stadig te Gaan
Ons leef in ’n wêreld waar alles kits is – kitskos, kitsvermaak, kits-advies van vreemdelinge op Reddit.
Maar as jy iets regtig wil leer, of maak, of beter doen, dan’s daar net een pad: die stadige een.
Soos om te oefen. Ek doen drie squats en kyk of ek al ’n six-pack het. Ek’s teleurgesteld.
My boudspiere is seer en ek soek troos in ’n koekie. Maar dis juis daar – in daai herhaling, in daai “ek-voel-nie-lus-nie-maar-ek-doen-dit-nog-steeds” – waar groei gebeur.
Hoe Om Te Wag Sonder Om Mal Te Raak
Ek het begin leer om myself te kalmeer as ek wil opgee. Ek sê vir myself dinge soos:
"Rome is nie in ’n dag gebou nie, en jou abs ook nie."
"’n Groot boom vat jare om te groei, en jy’s op dag drie – kalmeer."
"Die kaas vat tyd om te ryp. Moet dit nie uit die yskas haal en huil as dit nog melk is nie."
Ek begin verstaan dat daardie frustrasie wat jy voel, daai “ek’s nie goed genoeg nie” stem, is eintlik net ’n ongeduldige klein aap in jou kop wat dink alles moet nou gebeur.
Jy’s besig om te groei – jy’s net nie klaar nie.
Vertrou die Proses (Al Is Dit Stadiger As ’n Ouma Met ’n Trollie)
Sien, geduld is nie iets wat jy kry nie. Dis iets wat jy oefen.
Soos push-ups, of liefde, of die kuns om nie op jou printer te skree nie. En al werk dinge nie dadelik nie, al wil jy ’n kwas gooi, ’n idee los, of ’n poging begrawe – moenie.
Maak weer koffie. Doen weer daardie oefensessie. Probeer weer daardie storie skryf of daardie liedjie leer.
Want jy weet nooit watter dag die dag gaan wees waar alles net in plek val nie.
Of dalk nie... en dan skryf jy net ’n blog post oor hoe moeilik dit is om te leer.
Dis ook groei.