Deur D.Henning
Gepubliseer op 05 Mei 2025
Ek doen darem meer as net stok prentjies, soms!
Dis die kuns van meer
Party mense sien kuns of genesing of selfgroei as ’n eenrigting straat – jy kies ’n pad en ry tot jy arriveer. Maar dis nie so nie. Dit begin met iets kleins. ’n Krabbel in die kantlyn van ’n notaboek. Stokprente met skewe bene en te veel vingers. ’n Sin wat nie rym nie. ’n Gedagte wat halfpad sterf. Maar jy hou aan. Elke dag sit jy nog ’n stokkie by, al lyk dit vir jou soos niks. Tot jy eendag opkyk – en sien jy’t ’n iets geteken waarvan jy hou. Nie perfek nie. Nie maklik nie. Maar eg. En dit was nooit oor die stokprente nie — dit was oor die beweging. Die bly-weer-teken, bly-weer-voel, bly-weer-leef.
Die Emosionele Slagyster van die "Beta Streek"
Die Beta Region Paradoks is basies dié idee: jy’s nie meer in trauma nie, maar jy’s ook nog nie oor dit nie. Soos wanneer jy gryp na die laaste skyfie in die pakkie, maar jy het al die spesery aan jou vingers afgelek. Jy’t oorleef, ja. Maar smaak dit ooit weer dieselfde? Dis die deel ná die pyn, maar voor die vrede. Die skadukant van genesing waar jy half-klaar is, maar nog heeltemal moeg. Dis soos om op ’n gimfiets te trap met die hoop jy kom iewers uit. Jy sweet, jy sukkel – en jy bly op dieselfde plek. Dis waar die slinger jou vang. Jy’t al verder gekom as gister, maar jy’s nog nie waar jy wil wees nie. En intussen moet jy glimlag vir mense wat vra of dit al “beter gaan”.
Lag, Al’s Dit Teenstrydig Voel
Ek het besef, dis waarom ek lag. Nie omdat ek nie voel nie, maar juis omdat ek voel. Want as ek nie lag nie, begin ek vrae vra wat nie ’n Google-definisie het nie. Vrae soos: hoekom sê mense altyd “sterkte” as jy klaar moeg is? Of hoekom stuur mense kos as jy rou – wanneer jy eintlik net wil weet hoe om weer asem te haal? Maar dis deel van die slinger: jy moet terug swaai om vorentoe te gaan. Jou frustrasie word jou dryfkrag. Jou trane word ’n soort bevryding. En partydae is dit net genoeg om jou hare reg te kam en nie iemand met ’n botermes aan te vat nie. En dis genoeg.
Die Onverwagte Slot
Ek het onlangs gehoor van iemand wat stil-stil haar stryd teen kanker verloor het.
Amper niemand het geweet nie.
Sy’t nooit verkondig nie. Haar pendulum het stil gehang vir baie lank – dalk uit moed, dalk uit moegheid. En toe swaai dit stilweg tot stilstand.
Ek wonder of sy ook in die Beta-streek was, vasgevang tussen hoop en aanvaarding. En ek wens ek het geweet. Net om te sê: jy hoef nie alleen te slinger nie. Party mense dra hulle pyn in hulle sak, ander op hulle mou. Maar almal swaai. En as jy vandag voel jy trap water, weet net – selfs ’n slinger kry rus.
En partykeer is oorlewing al klaar ’n oorwinning.